Wednesday, April 4, 2018

Louis Lategan 1972-2018





Dankie aan Johann Mulder wat hierdie verslag aangestuur het. Ek plaas sy email hier onder.

(Louis is in 'n motorongeluk oorlede)

Vertroosting toegebid ...
Van julle uitgebreide familie


​Beste Piet,

Jammer, dis 'n dag na die begrafnis, maar ek kon nie vroeër by alles uitkom nie. Die begrafnis was in die Kango Vallei NG kerk te Schoemans hoek gehou om 11vm op Maandag 2 April 2018. Die kerk was tot barstens volgepak van mense en dit was 'n baie treurige gebeurtenis. Louis het aan 'n fietryklub behoort en die klub lede het uit Oudtshoorn gery met hul fietse en die diens bygewoon in hul fietsrydrag. Die kerk was so vol dat hulle die los stoele van die konsistorie moes in die gange pak vir ekstra sitplek. Daar is 'n huldeblyk gelewer deur een van sy naaste maats van die fietsryklub. Hulle was so driemanskap wat boesem vriende was en alles saam gedoen het en al die ritte saam gery het. Die dominee het voorgegaan en Ps 23 was sy teksgedeelte. Hy het 'n baie mooi, kragtige en vertroostende boodskap aan die familie gelewer. Daar was nie 'n ter aarde bestelling nie, hy word veras. Almal was genooi vir 'n koppie tee of koffie by sy Gastehuis Thorntree. Ek wil ook noem die hele gastehuis se personeel was ook in die kerk en het saam in 'n blok gesit. Piet ek sluit so paar fotos in vir jou kennisname. Hoop dis in orde so! Familie teenwoordig by die begrafnis was as volg: Johann Mulder, Koos Grundlingh, Danie Grundlingh, Marlene Rossouw en haar man, haar dogter Madel van Grootbrak rivier, Fransie en Duppie Fourie, Adri se twee oudste seuns van Jansenville. Dit is sover dit die familie betref.

Fransie en Duppi Fourie, Adri en Attie Fourie se oudste kinders van Jansenville


Piet en Marlene Rossouw van Caledon.


Louis se twee boesem vriende, Brandon en Hugo.


Rida, Louis se suster


Ou Danie gesels met 'n vriend. Hy was maar gebroke. Rina is links voor





Groete Piet,
Skrou maar as daar nog iets is!
Johann.



______________________________________

Danie Lategan skryf soos volg (21 Mei 2021):

GROETE VANAF DIE KANGO-VALLEI

Ek stuur vir jou die inligting soos jy versoek het (twee begrafnis briewe onder n aparte skrywe). Vir die doel waarvoor jy dit benodig, heg ek ook die volgende inligting aan :

·        Louis Lategan. 

Getroud met Tanja de Jager,

Twee kinders is uit hierdie huwelik gebore nl. Talana (2 Jan. 2002) en Louis Daniel (3 Maart 2005). Tans woonagtig in George.

Louis het n siviele ingeneursgraad behaal met struktuur as sy studie rigting. In hierdie hoedanigheid was hy in Spanje vir drie jaar in die grasdakbedryf. Toe hy en Tanja terugkeer na Suid Afrika, het ons n Jeug Herberg en n Gastehuis ontwikkel. Louis het twee kilometer vanaf die ingang van die besigheid, in n motorongeluk gesterf (29/3/2018)

Louis was n mens-mens en n groot deel van die onderneming se sukses het ek altyd toegeskryf aan hierdie eienskap. Ook in die gemeenskap het hy n besonderre plek gevul. Vir sy roudiens in Schoemanshoek se kerk, moes ons mense wegwys omdat daar nie meer plek of stoele beskikbaar was nie. Die fietsryklub waarvan hy lid was, het as n groep met hul fietse vanaf Oudtshoorn gery om die roudiens by te woon.

Louis het n groot vakuum gelaat wat Rina en myself, nooit ooit kan vul.