Beste Familie en Vriende, Dit was my eerste Reunie ooit! Ek het uitgemis op alle skool en Weermag reunies deur die jare en hier kry ek die kans om 'n familie reunie by te woon! Dit was fantasties, ek wens so ons kan sommer gou weer een reël! Ek het ook onder die diepe besef gekom dat dit val nie uit die lug nie, en daarom het ek so paar woorde van dank om te deel! Eerstens baie dankie aan Nig Retha Terblanche wat die bul by die horings geneem het en die nodige reëlings getref het en uitnodigings uit gestuur het! Sonder jou sou dit seer sekerlik nie kon plaasvind nie, veral nie die 007 truuks wat jy seker moes uithaal om almal se telefoon nommers in die hande te kon kry nie! Baie dankie vir jou inisiatief en harde werk! Tweedens 'n groot woord van dank aan Danie en Rina Lategan wat ons, jy kan maar sê, hulle huis en besigheid oopgegooi het om ons almal te kon akkomodeer en te voed! Dit was so gesellig en lekker dat ek glo niemand is daar weg met 'n leë maag nie! Baie Dankie! Jul vriendelikheid en gasvryheid word hoog op prys gestel! Derdens wil ek dankie sê vir Danie Grundling vir die reëlings om die kerk te kon besoek asook die lekker braai op sy plaas. Voorwaar, as ek dink dis my familie wat so optree, is ek trots om een van die nasate van Oupa Daantjie en Ouma Magriet te wees en om ook te kan sê, ek is familie van sulke wonderlike gasvrye mense! Jou kos was uitstekend, jou venue was puik, en die geselskap was uitgesoek! Dankie Danie en Susan en Dys en sy vroutjie en Ina en haar man. Julle is uithaler mense! Ek is nog nie klaar nie, daar's nog dankies om te sê! Aan Pietie Le Roux vir die mooie boodskappie in die Kerk! Pietie jou boodskappie het my ver laat terug dink! Ja, dis nie net bloed wat mens familie maak nie, Jesus se volgelinge maak van ons almal broers en susters en so moet ons ook optree as broers en susters van mekaar, want ons is almal kinders in sy groot familie! Ek was eenkeer tydens my weermag dae op 'n kamp om jong tieners te help om rigting in hul lewe te kry en groot was die verrassing toe hulle een aand die pragtige lied sing uit dankbaarheid dat hulle die kamp kon bywoon en leer en bevoorreg was om daarin te kon deel! 'I lift up my hands, lift up my hands to Jesus!' Daar in die kerk wou ek ook sing 'I lift up my hands, lift up my hands to Jesus!' Dis net Hy wat sulke momente in 'n mens se lewe kan bring en hoe bevoorreg was ons een en almal nie? Baie dankie vir die boodskap, dit het versterk en weer moed en insig gegee vir die toekoms wat vorentoe wag om ander broers en susters te kan ontmoed en te kan ondersteun! Dan aan almal wat teenwoordig was, my familie, my neefs, my niggies en hulle kinders wat daar was. Was dit nie vir julle teenwoordigheid nie, was daar nie 'n reunie nie! Dankie dat julle die tyd kon vind en die onkostes aangegaan het om dit een van die beste dae in my saai en vaal lewe te kon maak! Ek wil saamstem met Billy Nel, dit was voorwaar een van die hoogtepunte in my lewe, om te kon verkeer saam met familie in sulke wonderlike omstandighede! Wel gedaan! Dankie Pietie vir die blog wat jy beskikbaar gestel het vir ons om op te kan fotos plaas en gedagtes ruil! Ek dank een en almal Julle Neefgoed, Neef Johann Mulder! |
Lategan-fees te Oudtshoorn - Saterdag 16 April 2011 --- PROGRAM: 10:30 Ontmoeting en middagete by Danie & Rina Lategan; 14:00 Besoek aan Buffelboschrivier, Lategansvlei (familieplaas); 17:00 Huisgodsdiens in De Hoop NG Kerk; 18:00 Aandete en kuier by Danie en Susan Grundling. Reëlings: Retha Terblanche (Om al die bydraes te sien, kliek op die verskillende maande onder "Blog Archive" regs op die skerm)