Monday, October 7, 2013

Huldeblyk: WG Le Roux



Hilda Swartz
Paul Roos Oudskoliere-Unie
Stellenbosch

7 Oktober 2013

Op u versoek stuur ek graag hierdie kort huldeblyk en foto's vir u nuusbrief:

Willem le Roux (geboortedatum 12 Maart 1917) was 'n trotse Stellenbosser - en daarmee saam ook 'n trotse oudskolier van Paul Roos. Hy kon met smaak van sy skooldae vertel en van sy skool- en universiteitsmaats wat saam met hom in oom Kalie Heese se Voortrekkerspan was. Hy het die grootste deel van sy lewe in Stellenbosch, Tokai, Bellville, Paarl en die Strand deurgebring en het sy kontrei-herinneringe in verskeie boeke aangeteken, waaronder: Oom Pietie en sy mense, Waas daai dae. Dit en Dat, Die Families Le Roux in SA (medewerker aan hierdie publikasie van die RGN) en Om aan te Proux (oor die Le Roux-familie).

Al het die ouderdom in die later jare sy tol begin eis het hy altyd 'n verrassende jonkheid uitgestraal en het hy met wellewendheid steeds sy kant probeer bring. Hy was 'n buitelugentoesias wat die berge rondom Stellenbosch soos die palm van sy hand geken het. 

Willem het met grasie gelewe - en met genade van Bo. Uit sy huwelik met Mimie Lategan van Aberdeen is drie kinders gebore, Pietie, Marliena (de Beer) en Burgert. Hy was werksaam by die Porter-Verbeteringskool in Tokai en later ook by die Departement van Kleurlingsake in Kaapstad. 

Willem is in April 2013 in die ouderdom van 96 in die Serenitas-aftreeoord (Strand) oorlede. Ons eer sy nagedagtenis.

Pietie Le Roux
___________________________________________________________________
Paul Roos (Stellenbosch) se matriekklas na 50 jaar

Monday, May 27, 2013

Elizabeth Sofia (Elfia) du Toit gebore Lategan (26 Februarie 1945 - 27 Oktober 2012)

Kliek op enige van die foto's vir 'n
groter weergawe - en op die
agtergrond om weer terug te keer
Vlnr: Elizabeth du Toit, Burtie Lategan, Tannie Lizzie Lategan, Pieter du Toit, Martie du Toit, Elfia du Toit, Kowie du Toit. Oom Burger Lategan sit voor (ongeveer 1984)
Dr Martie Jansen (Sielkunde) en dr Gerrit Jansen (mediese praktisyn - sportbeserings) by klein Amelie op haar doopdag. (Hulle tweede dogter se naam is Dete) 
Kowie en Elfia du Toit saam met Daniel Adendorf, Malissa Adendorf, Elizabeth Adendorf, Martie Jansen, Ameli Jansen, Gerrit Jansen en Izak Adendorf. Heel regs is Elizabeth se skoonma, Riana Adendorf. Elizabeth se man, Wium Adendorf het die foto geneem (ongeveer 2010)
(Izak het in 2010 in Swede gesing en was ook deel van 'n groep wat saam met Andre Rieu deur Suid-Afrika getoer het)
Elfia, Pietie en Willem le Roux tydens die Lategan-familiebyeenkoms te Oudtshoorn (2011)
Elfia, Elmarie en Pieter du Toit saam met Estiaan, Flippie en Daniel (2010)

Monday, April 15, 2013

Willem Gabriel le Roux oorlede op 3 April 2013

Oom Willem was die laaste oorlewende eggenoot van die tien Lategan-kinders
Gedig deur Willem Gabriel le Roux (kleinkind) voorgelees by die dankdiens op 6 April 2013 by Serenitas-aftreeoord

WILLEM GABRIEL LE ROUX


Willem le Roux is op Stellenbosch gebore waar hy ook sy skoolloopbaan (Paul Roos Gimnasium) en universiteitstudies (Sosiologie en Sielkunde) voltooi. Hy begin in 1943 met sy werksloopbaan by die Porter-Verbeteringskool in Tokai en behaal in 1952 ’n D.Phil.-graad met sy proefskrif getiteld: “Die Kleurling-Jeugbende in Kaapstad”. In 1959 kry hy ’n aanstelling by die Departement Kleurlingsake in Kaapstad waar hy werksaam was tot by sy aftrede op 31 Januarie 1978.

Willem het tydens sy studentejare ook vir die Voortrekker-beweging gewerk en was ondermeer op reis deur SA met die rolprent “’n Nasie Hou Koers”.

Hy ontmoet Mimie Lategan in 1941 tydens ’n optrede van die Stellenbosch Boere-Orkes op Aberdeen in die Karoo. Hy vertel self: ’n tannie Lategan van die plaas Brakfontein het die teedrinkery na die opvoering georganiseer. Sy vra my toe (as finalejaarstudent in Sosiologie) om tog bietjie om te sien na haar dogtertjie Mimie wat die volgende jaar ook Stellenbosch toe sou gaan (sy het ook gehelp met die teeskinkery).
Willem se beskermingsdrang/verantwoordelikheidsgevoel (!) bring hom dus vroeg in 1942 by die koshuis Rozenhof in Dorpstraat waar sy gebly het tydens haar sekretariële kursus wat sy teen die einde van die jaar voltooi het. Sy begin in 1943 by Darters (’n skryfbehoefte-handelaar op Stellenbosch) werk, dieselfde jaar dat Willem by Tokai as welsynsbeampte begin werk het. Hulle trou op 15 Desember 1943 in Aberdeen.
Daar is drie kinders uit die huwelik gebore: Pietie (Pretoria), Marliena (Strand) en Burgert (Somerset-Wes).

Die gesin trek in 1959 vanaf Tokai na Bellville waar die kinders hulle skoolloopbane voltooi.  Willem en Mimie verskuif in Januarie 1971 na Stellenbosch (die ou gesinswonings waar Willem gebore is) en in Maart 1978 na Rozenburg in die Paarl (gebou in 1812). Vandaar trek hulle in Mei 1993 na die aftree-oord De Oude Renbaan (Paarl). Mimie is in Augustus 1996 daar oorlede. Willem het nog vir ’n tyd daar aangebly, en het in September 2004 na Serenitas-aftreeoord in die Strand verskuif.

Willem het ’n wye belangstellingsveld gehad en was betrokke by onder andere genealogiese navorsing, kultuurmusiek (benewens die Stellenbosch- Boerorkes het hy in Tokai ook ’n eie “koffiehuis”-orkes op die been gebring), asook by taal-en kultuuraangeleenthede. Hy was versot op die veld- en buitelewe en het destyds saam met dr. Kallie Heese se Voortrekkerspan talle landmeter-bakens op die bergpieke rondom Stellenbosch gebou.

Al het hy in die jare gevorder het daar tog altyd ’n jonkheid by hom behoue gebly. Hy was ’n dankbare mens wat altyddeur getuig het van God se goedheid in sy lewe. Hy het Kerk en samelewing probeer dien met die gawes wat die Here hom gegee het. Ons eer sy nagedagtenis.

Pietie en Magdel, Marliena en Gerrit, Burgert en Maritha
En kleinkinders en agter-kleinkinders



Willem en Mimie (Lategan) voor hul huis in die Paarl (November 1991)